Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 21 DESEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet bekend maak dat Craig Thom, ZS6UM, op 2 Desember, twee maande voordat hy 83 jaar oud sou word, oorlede is. Ons innige meegevoel aan sy kinders, kleinkinders, ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

KERSFEESBOODSKAP VAN DIE SARL-PRESIDENT

OKOSA GEE DUIDELIKHEID OOR WEDERSYDSE TOEKENNING VAN LISENSIES

UITGEBREIDE 40-METERBAND OP KOERS VIR MAART 2009

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie – en ander belangrike – en interessante nuusitems.

KERSFEESBOODSKAP VAN DIE SARL-PRESIDENT

Ons skop af met ‘n boodskap van die SARL-president, Rassie Erasmus, ZS1YT:

“Ek groet u aan die einde van nog ‘n jaar as President van die SARL. In dié tyd van vreugde en blymoedigheid – kom ons dink aan hulle wat nie so bevoorreg is nie. Kom ons streef daarna om in die komende jaar dat ons – as amateurs – alle pogings sal aanwend om ons stokperdjie te bevorder op so ‘n wyse dat ons trots kan wees dat ons niks oor die lug gedoen het om enigiemand skade te berokken nie.

Mag die nuwe sonsiklus een wees wat u altyd as ‘n hoogtepunt sal onthou.”

OKOSA GEE DUIDELIKHEID OOR WEDERSYDSE TOEKENNING VAN LISENSIES

Suid-Afrika het die CEPT-ooreenkoms onderteken waarvolgens besoekende radioamateurs van lande wat lid van die CEPT-ooreenkoms is, aktief in Suid-Afrika vir ‘n tydperk van drie maande – in enige gegewe jaar – kan wees. Dit beteken die gebruik van hul eie roepsein, met die ZS- en die betrokke streekkode daarmee saam. Die stappe wat ‘n besoekende amateur moet volg is om ‘n e-pos te stuur aan admin@sarl.org.za met die datums van sy/haar besoek, roepsein en kontakbesonderhede in Suid-Afrika. Dieselfde voorwaardes wat in sy/haar eie land geld, is outomaties in Suid-Afrika van toepassing.

Vir buitelandse amateurs wat ‘n permanente roepsein in die RSA wil bekom, is dit nodig om aan die standaardprosedures van die RAE te voldoen – skryf van die eksamen, en indien nodig, deur die standaardprosedures vir die opgradering na ‘n ZS.

Indien die persoon egter van ‘n land is waarmee Suid-Afrika ‘n wedersydse ooreenkoms het, kan ‘n gelykwaardige klas lisensie van OKOSA bekom word deur die nodige dokumente aan die SARL voor te lê, óf direk aan OKOSA. Tans het Suid-Afrika ‘n wedersydse ooreenkoms met die volgende lande:

Die Verenigde Koninkryk;
Duitsland;
Israel;
Die Nederlande;
Switserland;
Chili;
Portugal;
Botswana, en
Swaziland.

Suid-Afrika het aanvanklik ook ‘n wedersydse ooreenkoms het Rhodesië gehad, maar die Zimbabwe-regering het dié ooreenkoms eensydig gestaak.

Om ‘n wedersydse lisensie-ooreenkoms aan te gaan is ‘n ingewikkelde proses en word deur die departemente van buitelandse sake van beide lande hanteer. Ten tyde van die ondertekening van die ooreenkoms met die VSA, het dié proses intensiewe steunwerwing geverg deur wyle senator Barry Goldwater – destyds ‘n prominente radioamateur in die VSA.

Daar bestaan tans geleenthede om wedersydse lisensie-ooreenkomste met ander lande aan te gaan. Vanuit ‘m SARL-oogpunt sal dit ‘n mosie by die AJV verg om die Raad ‘n mandaat te gee om so ‘n proses aan die gang te sit. Lede het tot 31 Januarie tyd om mosies by die SARL in te dien. ‘n Mosie vereis ‘n voorsteller en ‘n sekondant om die agenda geplaas te word. Mosies kan per e-pos gestuur word aan secretary@sarl.org.za.

UITGEBREIDE 40-METERBAND STEEDS OP KOERS VIR MAART 2009

Die SARL het die versekering van OKOSA ontvang dat die uitbreiding van die 7 100 – 7 200 kHz-band vir ingebruikneming vanaf 28 Maart 2009 – sowel as die korreksie vir die ZR-toekenning in die 20 meterband – teen die einde van Januarie gefinaliseer sal word. Dié veranderinge sal binnekort in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer word.

In die finale fase moet die Minister van Kommunikasie die frekwensietoekenning goedkeur. OKOSA en die Departement van Kommunikasie het hulself daartoe verbind om die ITU WRC-besluite na te kom.

Die SARL en OKOSA sal in Januarie vergader om verskillende sake – insluitende die samestelling van ‘n permanente skakelingskomitee – te bespreek.

WIL U GRAAG DIE RAE DOSEER?

Ad hoc vakatures vir RAE-dosente bestaan in verskeie dele van Suid-Afrika. ‘n RAE-kursus duur voltyds sowat 10 dae en word by verskeie lokale aangebied. Van dosente word verwag om kandidate voor te berei vir die RAE, wat dan aan die einde van die kursus geskryf word. Dosente sal vergoed word en ‘n reistoelae – ooreenstemmend met AA-tariewe – betaal word. Vir meer besonderhede, stuur ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za. Die eerste kursusse neem van Februarie tot Maart ‘n aanvang.

GESELS SAAM OP KERSDAG

Amateurs het tradisioneel op Kersoggend groeteboodskappe op die lug uitgeruil. Dit was ‘n mooi tradisie wat met die verloop van jare in onbruik geraak het. Gee ‘n roepie op 25 Desember en deel in die betowering wat amateurradio u bied – kuier saam met die wêreld.

SARL-KANTOOR OOR DIE KERSSEISOEN GESLUIT

Die SARL-kantoor by die Nasionale Amateurradiosentrum sal vir die Kersfees- en Nuwejaartyd gesluit wees. Die kantoor sal weer op 5 Januarie open. Vir dringende sake wat nie tot 5 Januarie kan oorstaan nie, stuur ‘n e-pos aan secretary@sarl.org.za.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld se vlak sal styg tot onstuimige vlakke. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf onderskeidelik 14:00 en 18:00 SAT na Indië. 15 m kontakte met Nieu-Seeland gaan vir 'n kort rukkie om 08:00 moontlik wees. Om 08:00 en om 14:00 is daar moontlike flou 20 m-openinge na Australië. Swak kontakte met Peru is om 14:00 op 15 m moontlik waarna swak openinge op 20 m moontlik word.

Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 12:00 gewerk word en op 20 m vanaf 19:00. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike kort, swak 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se ooskus is op 15 m vanaf 18:00 moontlik en met die weskus ná middernag op 20 m.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Selfs 20 m word ‘n bietjie lewendig voor oggendtee.

Saans is 80 m die beste keuse. Met die somer hier kan die donderstorms en geraas van statiese ontladings kommunikasie uitdagend maak.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u nog steeds kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Ten slotte:

DAGBOEK VAN GEBEURE

10 en 11 Januarie – Hunting Lions on te Air”;
16 tot 18 Januarie – PEARS BHF-/UHF-kompetisie;
31 Januarie 2009 – Mosies en agenda-items vir die SARL 2009 AJV moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel, en deur Jannie, ZR6PHD, geredigeer is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003